DIE TOEBROODJIE EN DIE KOSBLIK
En hier staan ek vannaand…..besig om die eerste kosblikke
vir die volgende 15 jaar te pak! Ek kry skielik hoendervleis, ek kan nie glo
ons Pop gaan more al Graad R toe nie. Ek het vroeer die aand vir hulle gevra
wat hulle op hul broodjies wil he vir die volgende dag: “Toop (stroop), Mamma”
het dit van Hannes gekom en Mieke kort agterna: “Grondboontjiebotter asb Mamma”……
Snaaks, dink ek, hulle altwee eet dit apart, of die een of die ander, maar nie
die kombinasie nie.
Ek dink terug aan my koshuisdae. Ons kon pouses broodjies by
die koshuis gaan eet. Woensdae was “Peanutbutter & Stroop Dae”, ons
gunsteling. Die ander dae was maar ‘n mengelmoes van Marmite, Marmelade of
Gemenge Konfyte………..jy kan verstaan hoekom Woensdae ons gunsteling was. Dan
onthou ek ook Maandae, as ons eers die oggend van die plaas af sou ry koshuis
toe, het my Ma ekstra vroeg opgestaan en vir ons “toasted tamatie & kaas” broodjies
gemaak, in ‘n pannetjie op die gasstoof. Mens kon dit al ruik wanneer sy ons
kom wakker maak het. Maandae het ons ook lekker broodjies gehad…….ek onthou hoe
mens dan sou uitsien na pouse, na jou kosblik met ‘n spesiale broodjie……..ek
kon die liefde en my ma se hande in daardie broodjies proe.
Toe wonder ek, sal Mieke en Hannes ook more so uitsien na hulle
kosblikke en darem so bietjie, net ‘n klein bietjie aan my dink…….My oe skiet
vol trane, ek hoop hulle is “happy” by die nuwe skool. Eintlik hoop ek dat
hulle so gelukkig is dat hulle miskien nie na my sal verlang nie, dit kan hulle
miskien hartseer maak.
Ek sluk my trane en begin pak die broodjies, een met “toop”
en een met grondboontjiebotter soos versoek. Wens ek kon hul gunsteling “sweetie”
ook daar insmokkel, maar die skool is nogals streng dat die kinders nie elke
dag ‘n lekkertjie moet inkry nie…..Vrydae is sweetie dag. Ek pak die
soutkoekie, die droewors en die kasie in……….lyk darem genoeg. Sit die kosblikke
in die yskas vir moreoggend. Bed toe vir my.
Ons is vroeg aan die gang. Dit reen en die verkeer staan doodstil,
tussendeur die honderde karre, reen en kinders se opgewondenheid voel my gemoed
maar swaar. Ek is so dankbaar, maar ook so hartseer. Ons soek parkering, sakke
op die rug, klas toe. Hannes gaan maklik na die nuwe vriendelike tannie toe. Hy
sien blokkies en karre en los my hand vining. Ek voel die trane in my oe, maar
sluk en sluk weer………ons kom by Mieke se klas aan. Die nuwe Juffrou is net so
vriendelik en opreg. Ek het onmiddelik vertroue in haar. Mieke klou my hand
stywer……ek voel hart hart klop woes, sy draai om….. “Mamma moenie huil nie, ons
sal okay wees”….haar stem bewe, maar haar oe is helder en vol sterre. Die trane
stroom oor my wange, sy los my hand en stap om op die mat by die ander maatjies
te gaan sit……..daar gaan sy….5 jaar later….
Ek draai om, sit my sonbrille op die mees bewolkte dag in
Pretoria op en stap tot by my kar. Ek is papnat gereen en gehuil. Ewe skielik
voel ek amper wees, die kar is doodstil………
Vier ure later tel ek twee opgewonde, maar uitgeputte
kinders op. Elkeen het sy eie storie van hul eerste dag by die nuwe skool. Ek
vra: “Het julle julle broodjies opgeeet?” “Jaaaaaa”, kom dit gelyk van agter
af. Ons gesels oor alles en nog wat. Halfpad huistoe raak Hannes aan die slaap.
Mieke raak ook stiller…..ewe skielik hoor ek haar se: “Dankie vir my kosblik
Mamma, ek het na jou verlang toe ek dit eet.”
Vir die soveelste keer skiet my oe vol trane…….”Plesier
Sticks, Mamma het na julle ook verlang..”
xxxxxxxxx
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking