Maandag 14 April 2014

Ek, die groen stoel, die blou jasse en die engele om ons......




Hierdie stukkie is nie vir sensitiewe lesers nie.........

Dit het alles begin met 'n "gewone" sms van my ma op 'n gewone
Sondagoggend....al wat nie "gewoond" was daaraan nie, was die woorde:
"Pappa is vanoggend in die hospitaal opgeneem.....hulle dink dit is sy
suiker."

My hart het onmiddelik in my keel geruk. Ek het net nie 'n goeie gevoel
gehad nie. Leon was op 'n kurses by die werk, ek met twee kinders in die
trollie in Woolies.

Ek bel my Ma, sy is hartseer, maar se ons moenie bekommerd wees nie. Hulle
gaan hom 'n nag of wat daar hou vir monitering. Sy gaan gou winkel toe om
pjamas en die nodige vir hom te kry. Sy hou ons op hoogte. Ek bel dadelik
my jongste sussie. Sy is in trane, hulle is alreeds van Kathu af oppad
Upington toe om my ma te gaan help. Sy sal laat weet hoe die dinge daar lyk
en of hulle ons nodig het.

Ek loop soos 'n zombie in die winkels rond, sonder doel en koop niks van
dit waarvoor ek eintlik gegaan het nie. Dink ek vat sommer die kinders
McDonalds toe, hulle kan bietjie daar speel en ek kan met my koffie en
gedagtes sit. Die koppie koffie is net voor my neergsit toe Belinda my bel,
"Pappa is nou na ICU toe oorgeplaas.......". My kop draai en dit voel asof
iemand my met 'n baksteen reg van voor af getref het. "Die toetse het
teruggekom en dui op 'n hartaanval..." - die baksteen tref my nog 'n keer
en gee my 'n bloedneus. Ek los die koffie, gryp die kinders en ry huistoe.

Leon is oppad huistoe. Tussen my twee susters, my ma, my tannie Ella en die
handvol mense wat weet lui die foon onophoudelik. Al die bemoediging en
gebede begin. Ek is so dankbaar vir almal. Die foon lui weer: "Die dokter
gaan reel dat hulle Pappa more Kaap toe vlieg........, hy moet by die
Kardioloog uitkom, en sy toestand is nie van so 'n aard dat hulle hom per
ambulans kan vat nie..." Dit alles bevestig my grootste verse.......my Pa
is baie ernstig. Maar ek berus my daarby dat hy daar die beste mediese sorg
sal he. Nou moet hy net betyds daar uitkom.

Daardie aand toe ek my oe toemaak sien ek my Pa voor my. Die grote boer met
die laphoedjie op sy kop. Hy was nooit sonder daardie laphoed nie. Toe ons
klein was en ons vra hoekom hy altyd 'n hoed dra was sy antwoord: "Dit is
my verstand". Toe ons later besef dat jou verstand nie in 'n hoed groei
nie, was sy verweer altyd: "My kop kry koud". Ek sien hom onder die boom of
op die stoep sit op die ou tuin draadstoel en vra: "Antie, nou kry mens dan
nie 'n koffietjie nie?" Maandagoggend begin hulle die vlug reel. Hulle
behoort teen 14:00 by die hospitaal opgetel te word, dan oppad lughawe toe.
Gelukkig kan my Ma saamgaan. My Pa was altyd so bang om te vlieg, die
hoogtes werk nie vir hom nie. Kan nou net dink hoe bang hy in sy hart moet
wees, al die onsekerheid. Ten minste is my Ma langs hom. My ma sms later om
te laat weet hulle gaan nou opstyg..........nou nog so 2 ure en dan kan hy
hulp kry, maak ek my somme in my kop.....my telefoon lui 17:00, dit is
Tannie Ella. "Is Leon al by die huis?" "Nee Tannie, maar wat is fout?" Toe
weet ek, dit is sleg, baie sleg........sy verkies eerder dat hy dit vir my
se........"Jou Pa het die vlug nie goed gevat nie, hy is baie
siek........sy bloeddruk het baie geval en hulle moes sukkel om hom aan die
gang te hou....hulle moes jaag van die lughawe af met hom Panorama
Medi-Clinic toe. "Is my Ma by hom?" "Nee, daar was nie plek in die ambulans
nie.........en hulle was baie haastig. Die gedagte kom dadelik by my
op......dit was nie die rede nie. Hulle wou net nie he sy moes hom so sien
nie.......!! Wie gaan my Ma optel? Hoe bang moet my Pa nie nou wees nie en
alleen, so bitter alleen......ek wens ek kon vir hom sy laphoed op sy kop
sit......! My wereld skeur uitmekaar......

Gelukkig is my oudste sussie in die Kaap. Hulle gaan deur Panorama toe om
my Pa daar te kry. Die ambulans het vir my ma vir vervoer van die lughawe
af gereel. Ek bel my Ma......die klein vroutjie aan die anderkant van die
lyn klink so sterk soos 'n rots. "Bly kalm my kind, hulle weet wat hulle
doen. Ek is oppad hospitaal toe en sal laat weet hoe dinge daar lyk." Later
kom die nuus deur dat hulle hom stabiliseer het in ICU. Hy is wakker, maar
voel nie lekker nie. Gaan vroeg moreoggend vir 'n angiogram en dan van daar
af sal ons weet watter kant toe. Ons kom deur die nag......my Ma bel vroeg
met die nuus. "My kind, die angiogram het teruggekom. Pappa moet 'n 4-aar
omleiding kry.........! Hulle het solank 'n balonpomp ingesit om sy hart te
help, hy gaan more (Woensdag) teater toe. Die dokters is egter baie
positief oor die operasie en glo dit sal goed afloop."

Ek sit die foon neer, gaan maak 'n baie sterk koppie koffie en sit op de
stoep..........4 are.....dit is 'n GROOT operasie! Ek het in die hopsitaal
gewerk en weet waardeur daardie pasiente gaan.......die foon lui, dit is
Tannie Ella. Ons gesels en besluit ons moet gaan. Ek praat met Leon: "Gaan
Lief, gaan, moenie later spyt wees as jy dit nie gedoen het nie."

Ek soek vlugte, ek en Tanni Ella vat die laaste 2 kaartjies vir die
aandvlug. Boek en betaal. Maak geregte wat Leon en die kinders in die aand
kan eet. My vriendin Anname staan in vir my met skool, swem en ballet. So
dankbaar vir hierdie mense oor my pad. Ek gooi 2 jeans, 2 tops en 4 pare
skoene (??????? hoekom weet geen mens) in my tas. Probeer aan die kinders
die situasie verduidelik. Mieke met haar 4-jarige wysheid verduidelik dit
aan Hannes: "Oupa se hart is baie seer, Mamma gaan met die vliegtuig om dit
beter te maak en hom te troos....."

Op die vlug is dit ek en my gedagtes. Ek probeer deur 'n tydskrif blaai,
maar kan nie juis konsentreer om iets te lees nie......ek probeer slap,
maar dit ontwyk my ook......wat se 'n mens vir 'n man wat jou 34 jaar lank
groot gemaak het, toe jy klein was jou op sy skouers gedra het en later en
nogsteeds in sy hart dra. Wat se mens, as mens iets vir miskien ou laas
moet se?

Die 2 ure vlieg voel soos 'n ewigheid. My swaer Jos kry ons op die lughawe,
ons ry huistoe, sal eers more my Pa kan sien. Kry my ma by die huis. Sy is
duidelik moeg, hartseer, maar positief. Ons besluit ons moet gaan rus, more
kan 'n lang dag raak. Ek stap terug kombuis toe om water te gaan haal. Kry
my suster daar. Ons huil eers saam en gaan slaap. 05:00 Woensdagoggend word
ek wakker van my ma wat saggies langs my huil. "Mamma, vandag moet ons
sterk wees." "My kind, ek en hy kom al 40 jaar saam, ek kan hom nie vandag
verloor nie." "Kom ons berus daarby dat hy werklik in die beste moontlike
mediese sorg is, die res is in ons liewe Vader se hande." Ek vat haar hand,
bid vir ons albei vir krag. "En Here, ek bedoel dit nie lelik nie, maar
moenie 'n engel vandag stuur nie, kon Jy self en wees saam met my Pa."

Staan op, gee haar sommer 2 kalmeer pille op 'n nugter maag....... ek kyk
die pakkie en sluk self 2....hierdie berg moet ons vandag oor en ons begin
hom nou klim.

Die sms'se stroom in, ons het vanoggend so baie mense op hul kniee saam met
ons. Dankbaar vir ieder en elk. By die hospitaal word ons beperk tot 2
besoekers op 'n slag. My Pa le plat in die bed, mag nie beweeg met die pomp
in nie. Hy is sooo hartseer toe hy my sien. "Dankie my kind en se ook vir
Leon dankie dat jy kon kom." Hy vra uit oor Mieke en Hannes. Ons gesels,
maak grappe en huil baie.

20 minute voor hy moet ingaan trek Tannie Ella die gordyn toe....my ma,
tannie ella, Dinette en ek trek 'n laer om hom....ons bid en gee oor aan
ons Hemelse Vader. Voor ek uitstap, vat ek sy hand: "Pappa, belowe my nou
dat jy gaan terugkom na ons, ons het jou nog so bitter nodig......hy knik,
belowe my Pa.......Ek belowe my kind."

En so begin die groot wag.......op die groen stoele tussen die teater en
die saal waarheen hulle hom sal terugbring. Later gaan ons kafeteria toe,
eet broodjies en die grootste stukke koek op die spyskaart. Ons lag en maak
grappe oor simpel dinge en dan huil ons weer oor die realitiet. Ons is weer
terug op die groen stoele........die skilderye teen die mure lyk nie vir my
na veel nie......ek probeer iets daarvan maak. Die minute voel soos
ure.........12:15 is die tyd wat hy agter die teater deure saam met die
blou jasse verdwyn het......3 ure, 5 ure.......die teater deure gaan oop en
toe. Mense kom in en uit. Daar is hierdie een chirurg wat deel is van die
span wat op my Pa opereer......hy kom die heel tyd uit en gaan weer in,
elke keer, dink ek by myself, asseblief Heer, dit moet net nie nuus wees
oor my Pa nie.........maar elke keer loop hy verby ons na een van sy ander
pasiente....ek is verlig.........!

Ons maak vriende met die mense op die ander groen stoele.....hulle mans,
Pa's en Ma's is ook daar binne, hulle sit met dieselfde gevoel op hulle
harte daar.

19:15, 7 ure later gaan die teater deur weer oop......hier kom hy, hoor ek
my ma in trane langs my. Twee chirurge in blou jassee stoot die bed, die
een duidelik besig om my Pa se ventilator te pomp, dit is pype en masjiene
waar jy kyk, maar toe sien ek dit.....my Pa se gesig.......so vol
vrede.......hy kort net 'n laphoed!!! In die verbygaan se die chirurg: "Dit
het goed gegaan tannie."

Ons moet eers kan gee in die saal dat hulle alles regkry en dan mag ons hom
vining sien. Die chirurg kom vining met ons gesels. Hy is baie tevrede en
ons is oor die eerste hekkie. My Pa doen baie goed en ons kyk nou een dag
op 'n slag vorentoe.......ek is so verlig en dankbaar, voel of ek hom 'n
stywe druk kan gee.....maar daar is gelukkig 'n groen stoel tussen ons.

Ons kan hom vining sien........ek vat sy hand..."Jy het jou belofte gehou
Pa, jy het teruggekom na ons....."

Ons gaan huistoe, tevrede. Die verpleegpersoneel is soos engele en hulle
waak by sy bed. Ons salap rustig. Die volgende dag is hy nogsteeds op die
ventilator, hy kan nie praat nie, maar is met rukke by en kan ons hoor. Ons
spandeer die hele dag tussen sy bed en die groen stoele......Belinda hulle
het ook deurgekom. Ons almal maak beurte om in te gaan. Ons is so dankbaar
vir so baie!

Teen Vrydag is die ventilator uit en kan hy met ons gesels. My vlug is
12:00 terug, so ek moet gaan groet. Hy is half moeilik toe ons daar
inkom...kla oor die verpleegpersoneel wat hom vies maak.....ek wag vir 'n
oomblik alleen met hom......"Pa, ons is nou so ver, Pa sal MOET saamwerk om
hier deur te kom." raas ek. "Ja, my kind, maar dit wat gebeur het het ek
nie verwag nie en ek wil nooit weer terugkom nie..." Ek besef dit, maar om
nie weer terug te kom nie, moet Pa eers hier uitkom. So as hulle se Pa moet
die balletjie blaas, dan doen Pa dit, as Pa moet draai, draai, as Pa moet
op opstaan, staan op. Ons staan agter Pa en van hier af is daar nou nie
omdraai kans nie. Pa het 'n tweede kans gekry. Maak die beste daarvan.
Belowe my my Pa gaan saamwerk.......hy knik sy kop, nee Pa, belowe my, ek
kan nie hoor nie......ek kry darem 'n skewe laggie: "Ek belowe."

En so is ons toe ALMAL op die pad van herstel. Die chirurg het dit so mooi
aan my gestel: "Van hier af is elke dag in sy eie boks, vat een boks op 'n
slag en maak dit oop en "deal" daarmee, een op 'n slag.

Op my vlug terug dink ek oor alles van die afgelope week na....ek kyk
soveel anders na soveel dinge. Ek het soveel hier uit geleer wat ek so
graag wil deel.

more is vir niemand belowe nie, maak die beste van vandag
 
do not "sweat" the small stuff..........dit is net nie die moeitewerd nie. mens weet nooit wanneer jy langs daardie bed in ICU opeindig
nie......dan moet jou gewete skoon wees en nie tyd mors oor  klein onnodige benullighede nie.
 
maak reg wat verkeerd is, vandag...nie more nie...vandag!
 
maak elke dag in sy eie boks oop. Gister was miskien nie goed nie, maar
vandag kan great wees.

Van hier af kyk ons net vorentoe. Soos my Pa vanoggend self gese
het......"ek het die fight gewen." Hy behoort teen more ontslaan te wees en
weer sy laphoed te kan dra.

Nogmals dankie vir almal wat so gereeld 'n sms gestuur het, 'n draai gemaak
het, my kinders rondgery het, gebid het of sommer net gebel het. Julle het
ons gedra en dra ons elke dag!

Gebruik ook sommer van nou af hierdie e-pos adres van my vir e-posse.

Liefde en Groete uit die diepte van my Hart.........xs

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking