Vrydag 13 Mei 2016



"VREDE" PA……..TOT ONS WEER SIEN……..(ONS SAL MOOI KYK NA MA)

Gister was dit drie weke…drie weke wat party dae voel soos 3 ure en pary dae soos 3 jaar……..

As ek terugdink aan daardie Donderdag, sou ek nooit kon dink dat daardie Donderdag 21 April as een van die hartseerste dae van my lewe sou uitdraai nie. Net weereens ‘n bewys van hoe onvoorspelbaar die lewe is. Ons neem aan dat ons vannaand gaan slaap en moreoggend sal opstaan en weer aangaan om weer te gaan slaap en weer op te staan……..ons stel so maklik dinge uit tot more en as ons more nie daarby uitkom nie, dan tot die volgende dag. Partykeer gaan slaap ons ook so bietjie “troebel” vir mekaar……is net nou te moeg om dit uit te praat…..sal more dit uitsorteer as ons albei rus ingekry het……….maar wie weet of dit ‘n sekerheid is dat ons almal wel die son sal sien opkom moreoggend……

Daardie middag het hy nog om die tafel by my en my ma kom sit en gares afknip vir die “perde” wat ek vir die mark moes maak. Hy het na die kinders se rapporte gekyk, hulle goeie uitslae hardop gelees en hulle verseker dat hulle defenitief hul Oupa se “kuns-gene en slimheid” gekry het. Hy en Hannes het nog “skelm” ‘n sweetie geeet, Mieke het hulle uitgevang en wou vir Ouma se. Hy het haar oorreed om vir R 10 snoepiegeld hulle geheim te bewaar…………hy het ‘n ou vriend van hom gebel en vir ‘n halfuur oor houtwerk en sonpanele gepraat. Dit was net 'n gewone Donderdag middag.....

Ewe skielik het ‘n kouete oor Pretoria gekom. Ek het voorgestel dat ons sommer eerder pasta moes maak binneshuis as om die beloofde steak te braai. Dit was “spesiale” steak. My Pa het gesweer dit is die beste steak wat hy nog ooit geeet het en elke keer as hulle kom kuier het Leon dit weer so, op DAARDIE manier gebraai. Leon het vasgeskop, ons braai Pa se steak vannaand!!! Halfpad oppi kole, kom Leon met ‘n “happie” op ‘n vurk vir my Pa……… "hy is reg ou Leon…..” was sy antwoord. Ons sit saam aan tafel, kuier en lag, maak planne vir die volgende kuier en vleiswerk. Hy het dik stroop op sy brood gegooi met kaas, die steak sooooo geniet….. "Jinne, nou eet ek darem lekker Kinders, dankie…..” Met daardie woorde staan hy op van die tafel. “Ek dink ek gaan so lank le. Dankie Kinders. Lekker slaap. Lief julle.” Halfpad teen die trappe op se Mieke: “Oupa moenie van my R 10 vergeet nie…….” “Ja, ou Mieke spot hy terug. Kom kry dit moreoggend vroeg by my en as ek nie kan nie, leen eers by Ouma…..” En so sien ek hom nog opstap met die trappe…………."Nag Pa"……..

Ons drink ons tee klaar en begin almal bed se kant toe staan. My kop raak die kussing, Leon sit regop, “Wie skree so?” vra hy, 2 sekondes gaan verby….. “Dis jou Ma!!!!” Ons hardloop die kamer binne…….en daar begin die nagmerrie…..”Hy het net inmekaar gesak verduidelik my Ma deur die trane.” “Bel die ambulans……..” Leon hardloop, kry ‘n foon, ek staan voor hom….. “PA!!!!!!!!......PA!!!!! HOOR PA MY???” Ek hou sy kop en lyf regop, ek moet iets doen…..… “PA!!!!!!!!......PA!!!!! HOOR PA MY???” “HERE!!!! AS DAAR ‘N TYD VIR WONDERWERKE IS……….IS DIT NOU……..PA!!!!! PA!!!!!!” Leon hardloop terug, die ambulans is oppad…….ons moet net vasbyt…….Ek bel vir Tannie Ella, vra vir haar wat ek nog kan doen……hulle is oppad………Leon ry en gaan soek die ambulans……..die sekondes voel soos minute en die minute soos ure……….. “PA!!!!! PA!!!!!!”. Ek hou aan, druk op sy bors, blaas asem, BID, SKREE dan weer druk op sy bors, blaas asem, BID, SKREE…….ek voel hom koud word onder my hande, hoe sy lyf “hol” word, maar dit lyk net of hy slaap. Dit is weird…………agter my is dit amper asof ek iemand hoor se……. “Hou op skree my kind……..raak kalm…….” Ek weet dit is my Pa………….maar ek soek hom nie agter my nie, ek soek hom hier voor my, hier onder my hande…… PA!!!!! PA!!!!!! My ma is stukkend……..my hart le op die grond……….”Ma, hou vas hom asb, ek gaan die dokter af in die pad roep……..ek hardloop in my nagklere, kaalvoet oor die lee erwe oor die teerpad, hammer aan die deur, roep……..niks…………ek hardloop na die volgende huis waar nog ‘n dokter bly, spring oor die muur, hammer aan die deur en roep……niemand is by die huis nie………ek hardloop terug….En ek begin weer…. druk op sy bors, blaas asem, BID, SKREE dan weer druk op sy bors, blaas asem, BID, SKREE…….die ambulans is hier.

Ek hou my Ma styf vas, ons stap uit die kamer…………ons gaan sit onder op die bank. Paar minute later kom Leon by die trappe af…..hy kan sy emosies skaars beheer….. “Ek is jammer Ma.” My hart ruk, my Ma ruk……..ek het dit geweet. Ek het geweet hy wou nie terugkom nie….

Tannie Ella en Oom Russel kom soos twee engele deur die deur gestap. Ek moet my sussies bel dink ek……maar hoe se ek ons Pa is “weg”? Dat ek niks kon doen om hom te help nie? Leon bel die Swaers….miskien kan hulle die nuus “sagter” breek. Vir die volgende paar ure begin ek bewe soos ‘n riet, ek kry verskriklik koud………so koud soos my Pa. Die ambulans vul vorms in…hulle vra antwoorde…..dan vra sy my om te teken….”Waarvoor” wil ek weet…”Ek oorhandig nou jou Pa se liggaam aan jou, sy dogter……” Ek vat die pen……kan skaars op die lyn teken…NEEEEEEEE!!!! Verdere reelings word getref en 3 uur daardie Vrydagoggend is die huis doodstil…….’n onbeskryflike stilte met ‘n groot hartseer wat soos ‘n wolk oor ons toegetrek het. Niemand kan slaap nie, maar elkeen kry ‘n le-plek….my Ma langs my........ 
Die volgende oggend kom die son op soos enige ander oggend, maar dit is nie dieselfde vir ons nie. Ons is oe en harte is rou gehuil. Reelings moet getref word en mense moet laat weet word. Vriende en Familie dra kos en blomme aan, drukkies, oproepe en boodskappe van bemoediging stroom ons huis binne. Elkeen prober op sy of haar manier 'n stukkie van ons optel en weer bymekaar gom.....Ons is so bitter dankbaar vir al die omgee………my klein sussie van Kathu kom deur. Ons is bly en so hartseer om hulle te sien. Ons huil baie saam, sit my Ma daardie aand in die bed en maak twee bottels rooiwyn klaar. Deur alles en almal en in die nag wanneer ek van daardie verskriklike "laaste asem" geluid wakker word, opspring en aan almal gaan voel of hulle nog asem haal, dink ek, ek dink en baklei………..ek besef my Pa het die afgelope twee weke al sy kinders en klein kinders gesien, ek besef hy het soveel vrede gehad, ek besef hy was reg om te gaan……MAAR wat van MY…..wat van ONS wat agter bly??? Ek sal eerder weer op die "roller coaster” van 2 jaar terug klim, ek sal eerder weer vir 7 ure op die groen banke gaan sit en na lelike portrette staar……..ek wil net eerder ‘n bietjie HOOP he…….

Dan dink ek aan die dag wat ek en hy op die leerbank gesit het na Mieke se geboorte. Hy het so uitgekyk oor die dakkies van die aftree-oord wat aan ons estate gegrens het en gevra wat dit is. Ek het gespot en gese hy moet die plaas verkoop en daar naby my kom bly…..sy antwoord: “Ai, my kind, jy weet mos dit gaan nooit gebeur nie. As die Here my eendag ‘n laaste guns wil doen, sal hy my vining kom haal, want vir my om in ‘n aftree-oord te gaan sit en nie met my hande te kan werk nie, gaan nie vir my werk nie….” Ek dink aan die dag van my troue wat hy vir my ma gese het….”Antie, nou is dit nog net Belinda wat iemand moet kry wat mooi na haar kan kyk……dan het al 3 ons dogters grade en lewensmaats, dan kan die Here my maar kom haal, want dan het ek gedoen wat ek moes op aarde…..” Dit was reeds 11 jaar terug. Dan besef ek, die Here het hom veel meer gegee as waarvoor hy “ge-bargain” het……..tussendeur kon hy nog deel wees van 6 kleinkinders se lewens, hy kon ophou boer, weer begin en weer ophou……….

Alles begin om ons draai, reelings vir die roudiens, reelings met almal wat graag daar wil wees, reelings vir my mark. My engel-vriendin en haar man willig in om met my mark voort te gaan…..hulle sit verlof in en spring in……..hoe sal ek ooit kan dankie se? Maandag ry ons Upington toe. Die pad is lank en hartseer. Snaaks hoe ek Desember toe ons daarvan af ry, nooit sou kon dink die volgende keer sou ek kom om van my Pa afskeid te neem nie. Die huis en stoor lyk nog alles presies dieselfde…..alles waarmee hy nog besig was, staan met so. Mens kan amper verwag dat hy enige oomblik om die draai sou aangestap kom, met sy veldskoene aan en laphoed op sy kop. Maar hy gaan nie kom nie….nooit weer nie….Dit is lekker en hartseer om my oudste sussie te sien......sou haar graag wou druk sonder om te huil....

Dinsdagoggend kom ons almal bymekaar vir roudiens…….die karre ry in…mense groet en simpatiseer. Ons stap die lang paadjie in die kerk af…..my ma, 3 susters, 3 broers, 6 kleinkinders…..en dan my Pa se foto langs die blomme voor in die kerk. Hy is nie langs ons op die bank nie…en gaan nooit weer wees nie. Dit is ‘n mooi diens. My Pa kyk op ons almal toe van daar voor af, en al is ons almal so hartseer, kry ek heeltyd die gevoel dat hy so tevrede is. Na die diens drink ons tee…almal praat en gesels, groet….mense wat ek kan onthou en mense wat ek nie kan onthou nie. Maar almal het ‘n storie, hul eie storie van hoe my Pa hul lewens geraak het, hoe hy hulle gehelp het, geleer het, net DAAR was. So baie mense wat soooo lief was vir hom. Die dominee het gese dat as daar een ding was wat hy altyd van my Pa sou onthou is hoe “GROOT” hy oor die lewe kon dink…….op die kerkbasaar sou my ma 10 kg maalvleis wou koop……hy het dit 20 kg gemaak…..4 panne beskuit, het 8 panne geraak…….Ek kyk om my rond, luister na almal se “Kola-stories” en besef…..My Pa was ‘n groot man, groot hande, groot hart, GROOT op die lewe…….

Daardie aand braai ons vleis, soos my Pa dit sou wou he. Hannes kom sit by my…hy kyk na die sterre en vra of Oupa nou daar bo by Liewe Jesus ‘n paar goedjies regmaak? Ons vernoem sommer ‘n ster na Oupa, dan weet ons hy kyk elke aand vir ons. Snaaks hoe kinders ook hierdie goed verwerk. Hannes wil weet wie hom gaan wys hoe ‘n enjin werk, Oupa sou dit nog doen? Mieke is bly Oupa lewe nou in die hemel en weet dat ons almal eendag weer bymekaar sal wees……

Daardie Sondagoggend word ek wakker….wakker met die gedagte dat my Pa nie vandag gaan bel nie…hy het altyd Sondae gebel en met almal gesels. Dit voel by tye nogsteeds so werklik en onwerklik! Ek gaan sien my huisdokter, die geluide in die nag hou my nog wakker en ek voel of ek van dag tot dag ronddwaal. Hy gesels lank met my. Verduidelik my wat presies gebeur het, hoe die liggaam dan werk en verseker my dat ek werklik niks meer vir my Pa kon doen nie. “Troos jouself daaraan Sonja, dit is werklik die beste manier om te gaan. Die Here het jou Pa sy guns gedoen…”

Twee aande terug droom ek vir die eerste keer weer oor my Pa…….geen nagmerries, net soos ek hom graag wil onthou. Ek droom hy sit op sy stoel in my huis. Ek vra hom wat hy hier maak, want hy is mos nie meer hier nie…….Hy lag en se kalm… “Ek sal altyd by jou wees my kind…” Daar is so baie wat ons gaan mis…Pa se hande wat so hard kon werk, maar sag kon vat….Pa se oe wat reguit kyk, Pa se menswees, Pa se stories………….Pa het ons soveel van die lewe en die liefde geleer…..Pa was so ongelooflik lief vir die vier vrouens in Pa se lewe….. ek het 36 jaar saam met Pa gehad, maar ‘n leeftyd se “memories”…….snaaks hoe soveel dinge in my lewe nou MEER en MINDER saakmaak……...TYD......Ek sou so graag nog tyd wou he, tyd sodat Pa vir Hannes kon wys hoe ‘n enjin werk, tyd sodat Pa kon sien hoe Pa se enigste kleindogter eendag in die kerk sou afstap, tyd om op Pa se skoot te sit, al was ek al hopeloos te groot daarvoor, tyd om Pa se raad te vra, tyd om na Pa se stories te kon luister, sommer net tyd………..maar ons sou nooit GENOEG tyd he……….

Ek wens dat daar mense vir Pa in die hemal wag wat vir Pa net so lief is soos ons vir Pa is……, ‘n pak lemon creams, daardie perfekte steak op die kole, ‘n bloedrooi 135 Massey Ferguson trekker en ‘n laphoed. Soos Pa altyd sou se… “VREDE”.