ONS 24 UUR MET KIEWIET EN DIE LEWENSLES…..
Sondagmiddag terwyl ons op die stoep sit by ons vuurtjie
hardloop die kinders histeries nader…….Mamma, mamma………daar is ‘n klein voeltjie
in die tuin, ons moet hom red, hy is baie, baie klein……..hy is so oulik en
mooi!!!! My moed sak in my skoene, as kind het ek verskeie kere ‘n klein
voeltjie van een of ander aard probeer grootmaak en nie een keer was dit suksesvol
nie en elke keer was die hartseer ewe groot…….
My eerste gedagte is om die voeltjie net daar in die tuin te
los…..red kan ons hom nie red nie, dit weet ek…..maar die opgewondenheid op die
kinders se gesigte kan ek nie ignoreer nie..
Teen my wil en beterwete se ek: “Bring dan maar ‘n
skoenboks.” En so begin ons paar ure met Kiewiet (soos die kinders hom gedoop
het.)
Ons kyk op die internet wat ons hom moet voer, ons maak ‘n
warmwatersak in sy boks, en voer die boks soos ‘n nessie uit. Ons doen alles
volgens die boek.
So gaan ons die nag in. Uurliks word ek wakker en gaan hoor
of ek hom nog hoor, voer en kyk of hy nog asemhaal. Hy MOET net oorleef.
Alhoewel my kop vir my die kanse op oorlewing probeer regverdig, kan my hart
net nie aanvaar dat ek miskien vir my kinders van die “dood” moet vertel nie.
Hulle was bevoorreg genoeg om nog nie daarmee kennis te maak nie………
Die volgende oggend sien ek hy is swakker as die vorige dag.
Ek moet Pretoria toe en bel my nannie elke twee ure om te hoor of hy nog leef,
of sy hom gevoer het en hoe dit met hom gaan. Sy oorleweing raak vir my ‘n obsessie,
net omdat ek nie kans sien vir die gevolge nie…..ek is sommer vies dat hy wel
oor ons pad gekom het en dat ek hom in die eerste plek nie net in die tuin
gelos het nie……….
Later die middag het die onvermeidelike wel gebeur en
Kiewiet het ons “verlaat.” Daar staan ek toe, die kinders is in die bad, ek het
10 minute om ‘n verduideliking bymekaar te sit……my moed sak in my skoene en ek
dink om ‘n wit leuntjie te vertel……..”Kiewiet se mamma het hom kom haal?” Met
die gedagte stap ek boontoe en skraap my moed bymekaar………
“Mamma, gaan ons nou vir Kiewiet kos gee?” vra Mieke.
“Nee Liefie, Kiewiet is dood. Hy was net te klein en swak.
Ons het ons beste gedoen, maar ons kon hom nie red nie….” Ek voel die knop in
my keel skuif op…..
Haar blou ogies skiet vol trane. “Maar waar is hy nou?”
“Hy is in die diere hemel”.
“By Liewe Jesus?”
“Ja, Liefie, daar by Liewe Jesus.”
“Maar Liewe Jesus bly dan in my hart? Ek wou regtig nog
graag vir Kiewiet gehad het, hy was die mooiste voeltjie, Liewe Jesus kan hom
nie net vat nie. As ek Hom vra, sal Hy hom teruggee?”
Ek weet skielik nie wat om te se, of ek moet lag of huil nie…..”Nee
Bokka, as jy eers in die hemel is, kan jy nie terugkom nie.”
Daardie aand toe almal stil en inni bed is, dink ek weer aan
die dag. Wat ‘n dag!!! As ek terugdink het Kiewiet tog met ‘n doel oor ons pad
gekom en selfs vir my ‘n paar lesse geleer:
Partykeer wil mens iets regtig graag he, maar baie keer is
dit maar vir jou eie agenda. Ek wou nie nou al daardie les vir my kinders leer
nie, eintlik was dit selfsugtig van my. Die lewe loop sy pad en alles en almal
kom met ‘n doel daaroor. Maak die beste daarvan terwyl jy kan en as dinge
anders uitdraai as waarvoor jy gehoop het, maak vrede en berus daarby.
R.I.P Kiewiet, my kinders het so vining lief geraak vir jou
en jou koms en heengaan het ‘n belangrike les vir hulle geleer.
xxxx