Woensdag 11 Junie 2014



KINDERS GROOTMAAK EN DIE SKAAPBOERDERY……..

‘n Groot deel van my lewe het ek op ‘n skaapplaas groot geword. Ons het skape aangejaag, doseer, gewerk en hulle probeer beskerm teen die gevaar van jakkalse en rooikatte.

Party oggende was die aanjaag maklik en vining….ander oggende het die ou mense altyd gese: “Vanoggend is die donderweer weer inni skape……..” dan het elkeen sy eie pad gehardloop en dit het ure geneem om hulle almal in die kraal te kry….

Vanoggend was die donderweer (of die koue) weer behoorlik in ons huis…….die een wil ‘n sekere mus opsit, die ander se hare in ‘n vlegsel en nie ‘n poniestert nie…..die een eet net pienk vitamienpille en die ander een net geel….teen die tyd wat ons almal in die kar sit opaad skool toe, dink ek ons is miskien ook baie soos ‘n skaapboerdery….party dae volg almal mekaar netjies in ‘n trop en ander dae spring elkeen sy eie rigting….

Mense is ook net soos ‘n trop skape wat op die oog af redelik dieselfde lyk, maar elke liewe een van ons het ons eie DNA, selfs ‘n tweeling lammetjie verskil, al is dit net ‘n wit kolletjie op die een oor wat die ander een nie het nie, saam met hierdie verskillende DNA kom natuurlik elkeen se eie wil, opinie en persoonlikheid. So is ook mens se kinders…… skapies met dieselfde pa en ma met baie verskillende DNA……..veral in ons geval is ons 2 skapies se DNA verskillend…..baie verskillend….

Mieke, die perfeksionis wat deur ‘n baie spesifieke bril na die lewe lyk. Dinge moet gebeur soos wat sy wil he dit moet. Daar is nie baie “grys area” nie en die pad is reguit sonder enige afdraaie, die lewe het spesifieke reels en sy hou by hulle. As sy die lotto sou wen, sou sy die helfte aan die SPCA skenk en die ander helfte spandeer op alles wat mooi is……

Hannes sit nie brille op as hy na die lewe kyk nie. Hoe minder gevaar en reels hy sien, hoe beter. Die lewe is groot pret, sonder te veel reels en meeste van sy area is grys. Sy pad is vol draaie en af-draaie….dit is immers die avontuur wat dit die moeitewerd maak. As hy die lotto sou wen, sou hy Cadbury se fabriek koop…..

Elkeen van hulle glo in hul eie reg, met hul eie sterk persoonlikheid. Mense se dit is goed dat kinders sterk persoonlikhede het, dit is oor en oor bewys dat hierdie kinders as grootmense uitstyg in die samelewing op verskillende vlakke,…….ons moet hulle net eers groot kry…..meeste van die kere voel dit of my twee “skapies” uit die kraal spring, elkeen in sy eie rigting oppad op sy en haar eie missie……Hierdie verskille hou die kamp interessant, maar laat ook die kamp somtyds na ‘n slagveld lyk…..ons dink verskillend en voel verskillend oor dieselfde dinge…daardie regte “donderweer dae”….

-          Moenie met mekaar baklei nie

-          Luister asb as ons praat

-          Dit is nou slaap tyd

-          Eet julle kos en nie net sweeties nie

-          Neem ander mense rondom jou in ag

-          Deel met mekaar

-          Vra onverskoning

-          Tel asb julle speelgoed op

-          Se dankie en asseblief

-          Vra, moenie gryp nie

-          Hou op terg

Na dae, weke en maande van dieselfde rympies en dieselfde lesse elke dag raak mens soms moedeloos. Ek voel soos ‘n “verlore ooi” wat die hele dag staan en “bler”! Voel of die “duiwel jakkels” gereeld onder my skapies se maniere en reels kom vang. Dan begin ons elke keer weer van voor. Mens begin party dae in jou eie vermoe as ouer twyfel, wonder wat jy meer of minder van moet doen.

As Ma is dit my plig om hulle binne die kraal te hou, ‘n veilige omgewing waar hulle kan groot word, maar soos baie ander skape, volg my skapies nie noodwendig mekaar nie……Hoe versoen mens die twee uiterstes as mens hulle saam moet groot kry.…..waar kry mens die perfekte middelweg…

Ons hoor so dikwels dat ons kinders ons toekoms is. Hulle is die leiers van more, die sake manne, vroue en entrepeneurs…..Hoe maak mens, verwag mens dalk te veel van jou kinders of te min……ek weet nie watter een die gevaarlikste is nie…..as jy as ouer te veel verwag kan mens hulle uitbrand en hulle kan die “lekker” van die lewe miskien heeltemal mis…..verwag mens weer te min, gaan jou kind miskien nooit sy volle potensiaal bereik nie en miskien nooit weet tot wat hy werklik in staat is nie…..Ons moet hulle beskerm teen die wolwe (en veral die wolwe in skaapklere….), maar ook toelaat om die lewe op hul eie te verken. Ons moet hulle grootmaak sodat hulle aanvaarbaar is vir die samelewing, maar ook hul eie identiteit het.

Vraag bly……..hoe maak mens kinders groot?

Miskien moet ek hulle bietjie uit die “druk gang” van my eie denke en maniere jaag. Miskien moet ek my kraal aanpas, vir elkeen sy eie kampie gee, maar tog in dieselfde groot kraal. Elkeen in sy eie kamp waar hulle (binne die reels van die groter kraal) op hul eie manier die lewe kan ontdek…….miskien moet ek ook bietjie in my eie kampie (naby hulle s’n natuurlik) staan en nie altyd en heel tyd in hulle s’n wees nie……miskien is dit juis die druk van my drukgang wat hulle party keer laat uitspring, oor die draad…

Ek wil so graag he hulle moet eendag hul eie besluite kan neem, selfversekerd wees en ja, hul eie opinie oor die lewe en sy dinge he. Met hulle koppe omhoog stap en presies weet wie en wat hulle is. Hulle moet skape van ander troppe ook waardeer, maar nie noodwendig altyd die trop volg nie….almal hoef nie dieselfde te wees nie, maar mens kan nogsteeds mekaar respekteer en mekaar lief he..en bo alles altyd weet wie die skape van hulle eie kraal is.

En vir al hierdie dinge het mens seker jou eie kampie nodig…..as jy jou kop teen daardie kampie se paal wil stamp, moet ons as ouers naby genoeg wees om te troos en ‘n pleister te plak, maar ook ver genoeg staan om hulle soms toe te laat om dit te doen… tog wil ek he dat ons huis altyd ‘n veilige kraal vir ons kinders moet wees en al dwaal hulle party dae rond en af……..hulle moet altyd weet dat ons hulle sal kom soek en terugbring kraal toe.

Meeste van my dae bestaan uit “baie bymekaar maak” van hulle………om hulle te vang as hulle uitspring, te verduidelik en te vra……….maar ook hierdie dae gaan verby gaan, ek besef dat daar eendag ‘n dag gaan kom wat die kampie te klein is en ons die groot hek gaan moet oopmaak sodat hulle die wye velde kan invaar….dit maak my skoon benoud…daardie dag moet hulle reg wees vir die wereld daar buite. Daardie dag moet jou verhouding so wees dat jou kinders WIL terugkom na jou kraal toe…..

Nog ‘n dag van “bymekaar maak” is verby…….Ek trek die komberse oor hulle (pienk en blou, feetjies en monsters….). “Waarvan gaan julle mooi drome droom vannaand vra ek.” “Karre Mamma……..Barbies Mamma….” Ek draai om, sit die lig af en se dankie, dankie vir my twee volmaakte verskillende skapies……dankie dat hulle wil uitspring, maar elke aand my met ‘n vet soen kom nag se……..dankie dat hulle so anders, maar ook so dieselfde is..

Dan vra ek……”Here gee my die krag en wysheid om hierdie skapies groot te maak, dat ek eerder sal toelaat dat hulle “groot word” in plaas daarvan om hulle so hard te probeer “groot maak.”